The “Big” I

Ek het so paar dae terug ‘n status op Facebook geplaas oor onsensitiewe vrae. Ek het verwys na ‘n vriendin wat sukkel om kids te kry. Vandag kry ek van die einste vriendin ‘n epos. My hart juig en ek het haar gevra of ek dit mag deel met julle. Lees en geniet!”

The big “I”.

Ek is nie ‘n skryfster nie. Maar ek is ‘n emosionele wese. En emosionele wesens het gewoonlik baie om te sê. ‘n Tydjie terug het ‘n vriendin van my iets op haar Facebook geplaas oor mense en hulle onvermoë om ander se persoonlike spasie te respekteer. So here goes: The big “I”. Infertility. Onvrugbaar. Barren.

Die behoefte om ‘n mamma te word is gewoonlik van vroeg af in dogtertjies sigbaar. Ek was nie ‘n uitsondering nie. Ek het al wat ‘n pop, beer of selfs hond is met popklere aangetrek, in komberse toegedraai en orals saam gesleep. Kinders was en is steeds my passie. Ek werk met hulle en elkeen is uniek en kosbaar in hulle eie reg. Ek droom al van skooldae af oor my kinders: Hoe sou hulle persoonlikhede wees? Sou hulle soos ek lyk? Al die lesse wat ek geleer het, het ek op my hart geskryf sodat ek kon seker maak hulle maak nie dieselfde foute nie.

Ek het getrou met ‘n fantastiese man. ‘n Steunpilaar, my beste vriend. Iemand wat ek elke dag voor op my knieë gaan en Jesus loof en prys voor. Iemand wat elke vrou verdien en ek wraggies gekry het. Met ‘n ongelooflike man is ek wel geseën. Al wat toe kort om die perfekte prentjie te voltooi, is die kinders.. So toe kom die koue klap – ons sou nie normaal kan swanger raak nie. Wat en hoe die probleem is (wat by my lê), is irrelevant. Tot vandag toe het my man my nog nooit met minder as die ongelooflikste waardigheid hanteer nie. Daar was nog nooit ‘n tikkie blaam van sy kant af met die moeilike pad wat ons moes stap nie. Hy het keer op keer vir my gesê: “As ons nie kinders kan hê nie, is jy vir my meer as genoeg” al weet ek die begeerte brand by hom net soos by my. Ek leer so baie van hom en wonder soms hoe ek sou wees as die situasie omgekeerd was.

Maar soos ek gesê het, is ek ‘n baie emosionele wese… Daar is ‘n sekere “tyd” wat mense jou gun om swanger te raak. Wanneer “hulle” dan besluit het die tyd is verstreke, begin hulle vrae vra. “Wanneer kom die baba?”. As ek hier moet sê hoeveel keer ek al moes jok om daardie vraag te beantwoord. Wat sê jy? O, nee oom, ek is besig met my twaalfde rondte fertiliteitsbehandeling, so hopelik een van die dae? Die punt is, hierdie proses het my so baie van mense geleer. Ek wil glad nie oordeelkundig wees nie, maar liewe hemel! Na ‘n sekere “tyd” verby is, kom mense stadig maar seker agter daar is “probleme”. “Hulle sukkel, shame”.

Hierdie tye is egter die mees interessant – nonchalant oor ‘n koppie tee sal ‘n vriendin vra: “Maar is jou man se spermtelling darem okei?” “Ag ja en jou opelyf, is dit nog gereeld?”. Waarom dink mense as jy so moeilike (private!) pad stap, dit okei is om sulke persoonlike vrae te vra? Besef hulle nie hulle trek jou kaal uit nie?

Familielede wat ons een keer in vyf jaar sien wat agteraf jou ouers vra “Aaaaah, sukkel hulle?” Dink julle nie dat as ons gesukkel het EN dit met julle wou deel, julle sou geweet het nie? “Jy moet my dokter probeer, ek het net twee rondtes medikasie gebruik en toe kry hy my swanger”. Besef jy nie dis nie die dokter wat jou swanger maak nie? My Dokter is bo enige aardse dokter en die persoon wat die pad saam met ons geloop het voel vandag vir my meer as ‘n beste vriend as ‘n ‘dokter’. Hy wat my elke week fisies kaal op sy konsultasiebed sien, het my nog nooit so ontbloot en naak laat voel soos meeste mense wat elke dag met hulle persoonlike vrae na my toe kom nie. “Het jy nog nie vir ons nuus nie?” Dink julle dat as daar geskiedkundige gebeurtenis gebeur het Die Burger of Rapport dit NIE sou publiseer nie?

“Hoe gaan dit met die bevrugting?” Hierdie laaste een was van ‘n man af terwyl hy oorsee is. Iemand wat gereeld by ‘n braai te veel wyn drink en dan skelmpies my in die kombuis kom betas terwyl sy vrou en pragtige kinders in die vertrek langsaan is. Kaal. Ontbloot. Heeltemal verneder.

Dan is daar die stille ondersteuners. My ouers. My ma en pa het nie een keer gevra hoe of wat tans aangaan nie. Al weet hulle ons “sukkel” en “probeer” en duisende behandelings doen. Hulle het my presies dieselfde hanteer as altyd. Dit in ditself is so waardevol en eg vir iemand wat deur ‘n martelende proses gaan waar jy later nie meer jouself ken nie. Die vriendinne wat jou voor twee deure laat staan met ‘n besorgde “Hoe gaan dit met jou”. Met daardie vraag is die keuse in my hande: of ek sê “ag nee goed dankie en self?” of ek kan die keuse maak om dieper te gaan en meer te vertel.

My dokter, sy sekretaresse en die suster wat by hulle werk. Hierdie man behoort ‘n prys te kry vir die manier wat hy ons as egpaar en veral my as onstabiele vroulike wese hanteer het. Ek onthou die eerste keer wat ek Titanic gekyk het – ek het myself daarna vir twee dae op bedrus geplaas vir ligte depressie. Nou hierdie alreeds onstabiele wese vol gepomp met duisende hormone is nogals ‘n gesig. Hierdie man is ook meer van ‘n vriend vandag as ‘n dokter.

My man. Enigie vrou wat hierdie lees wat op fertiliteitsbehandeling is, onthou asseblief net een ding: Dis nie net jy nie, jou man het ook ondersteuning nodig. Ek dink ek was ‘n ongelooflike selfsugtige mens in hierdie proses: dis MY probleem, MY lyf, MY hormone, MY fout, MY highs and lows, MY pad, MYNE MYNE MYNE! My man het my as hormonale tier met soveel deernis, respek en liefde hanteer ek dink nie vandag ek sal hom ooit regtig in woorde kan bedank nie. Wat ek gedoen het om so ‘n pilaar van absolute Jesus-liefde te kry weet ek nie. Ek dink nie ek is waardig om sy vrou te wees nie en het hom so afgeskeep in die proses…

Maar alle paadjies het ‘n einde. Vandag tjank ek my oë potblou-pers-rooi met dankbaarheid en wil ek lofliedere sing van oggend tot aand. Ons gaan ‘n baba hê. So lank het ons gedink hierdie dag sou nooit kom nie dat dit selfs soos ek hier tik onwerklik klink. Ek druk elke oggend met dankbaarheid my kop in die toilet af met naarheid en giggel omdat ek elke drie minute moet badkamer toe hardloop omdat my blaas oornag tot ‘n ertjiepit gekrimp het. Die groter plan het gebeur. Ons baba se tyd het gekom al was ons tyd al meer as drie jaar terug. Hierdie proses het my soveel van myself en my man geleer. Ons baba kom nou eers, sodat hy/sy op ‘n hoër vlak kan begin as waar ek en my man drie jaar terug was. Geen mediese diagnose kan jou as mens definieër nie. Maar hoe jy die proses hanteer, kan ‘n getuienis wees. Dit is maklik om te jubel en juig as dit goed gaan. Wat ons egter moet onthou, is dat al lyk ons situasie hoe sleg, daar elke dag steeds soveel is om voor dankbaar te wees. As jy vandag vir iets bid – hou aan. Maar moenie dat die dag verbyglip sonder om te juig in vandag nie.

 

 

 

 

 

Advertisements

2 thoughts on “The “Big” I

  1. Baie dankie vir die deel! So mooi en eerlik geskryf, onbeskaamd pragtig! Ek nou trane in my oe van blydskap! Love die stukkie humor “druk elke oggend met dankbaarheid my kop in die toilet af met naarheid”. Sterkte en geniet die pad vorentoe!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s